Het jy al gebid, en … niks? Geen antwoord nie, geen teken dat God gehoor het nie, selfs nie eers ’n indikasie dat Hy hoegenaamd daar is nie. Niks.

Dis die gewaarwording van Asaf in hierdie psalm. Hy roep na God, hardop, sou ons kon vertaal. Die BDV vertaal vers 2 inderdaad só: “Ek roep hardop na God, ek roep om hulp. Ek roep hardop na God, sodat Hy my moet hoor.” En dan vertel hy in die volgende verse hoe hy tevergeefs op God wag en na Hom soek. Later (vers 8-10) vra hy: “Sal die Here vir altyd verstoot en nooit weer genade betoon nie? Het daar vir altyd ’n einde gekom aan sy trou? Geld sy beloftes dan glad nie meer nie? Het God vergeet om medelye te hê? Het Hy in sy toorn sy ontferming onttrek?”

Ek dink die meeste van ons het in wisselende grade van erns ook sulke tye en emosies beleef; dat dit vir jou gevoel het God speel wegkruipertjie met jou; Hy is nie daar vir jou nie; Hy gee nie om nie; Hy het jou vergeet of is so besig met ander dinge dat jy nie eers die onderste lyntjie van sy lysie haal nie. Dis dán dat jy verlate voel, en wonder waar God dan is as jy Hom nodig het.

Die interessante van Psalm 77 is dat dit nie eindig soos dit begin nie. Nouja, dis nie so vreemd in die psalms nie, maar gewoonlik sê die skrywer vir jou iewers dat God hom gehoor het of gehelp het, en dat hy daarom anders voel. Maar nêrens in hierdie psalm lees ons daarvan nie. Daar staan niks van God wat in sy lewe ingegryp het, of Hom laat vind het, of sy gekerm gehoor het nie. Niks. En tog getuig hy in die tweede deel van die psalm dat God ’n God is van ontferming en sorg en omgee.

So wat het met Asaf gebeur?

As ’n mens mooi na die psalm kyk, is dit duidelik dat die wending in vers 11 kom. Tot by vers 10 sug en kla hy, en in vers 12 sê hy hy wil dink aan die dade van die Here en slaan hy ’n totaal ander toon aan.

So kom ons kyk na vers 11, waar sy gemoed gedraai het. Daar staan: “En ek sê: ‘My grootste smart is dat die Allerhoogste nie handel soos voorheen nie.’” As mens dit so vertaal, beteken dit dat Asaf se grootste frustrasie is dat hy nie vir God kan manipuleer of dwing om Hom aan hom te openbaar as hy dit wil hê nie. Al sy gekerm en gekla het hom niks in die sak gebring nie; niks nader aan God laat kom nie. Asaf sê dan hier: ’n Mens kan God nie forseer om die stilte te verbreek nie.

Maar dalk is dit nie die beste vertaling van wat Asaf bedoel nie. Letterlik staan daar: “En ek sê: ‘Die siekte waaraan ek ly is dat die Allerhoogste nie handel soos voorheen nie.’” As ’n mens dit só vertaal, huil Asaf nie omdat die Allerhoogste verander het en skielik wegkruipertjie speel nie, nee; hy bely dat dit sý siekte is as God vir Hom so afwesig lyk, dat die fout by homself lê, nie by God nie. Die rede hoekom hy vir God in sy lewe mis, lê nie in iets wat God gedoen of nie gedoen het nie, maar in sy eie tekortkominge; dit gebeur omdat hy God probeer indwing in sý verwagtinge, en ’n god wil aanbid wat is soos hy wil hê.

Kom ek sê dit anders: Asaf ontdek dat die probleem nie by God lê nie, maar by homself. Hy het só op homself gefokus, op sy eie frustrasies en probleme, op wat hý wil hê en nie kry nie, dat hy net al dieper in sy eie selfbejammering ingesak het. So ’n gekerm bring jou nie by God uit nie, want jy bly die hele tyd met jouself besig. Dit was sy siekte, bely Asaf in vers 11. Hy het verkeerd na God gekyk en op die verkeerde plek na God se teenwoordigheid gesoek.

Daarom, van vers 12 af, kyk hy weg van homself, begin hy oor God nadink, oor wat God in die wêreld doen, in die geskiedenis, in die gemeente, en dis asof die wolk oor sy donker gemoed dan lig, want hoor wat sê hy in vers 14: “Alles wat U doen, is heilig, o God. Waar is ’n god so groot soos God? U is die God wat wonderdade doen …”

Maar daar kom ook ’n ander gewaarwording by hom op. Hy besef hy is nie alleen in sy soeke na God nie. God se teenwoordigheid is oral te vind, maar, soos hy, het talle ander dit ook gemis. Hy vertel hoe God in die wêreld aktief teenwoordig is, en tog merk hy half verbaas op in vers 20: “Niemand het u spoor gesien nie.” Die BDV vertaal: “… u spore (was) onherkenbaar.”

Geloof is juis om God se spoor te sien waar ander dit mis. Dis wat die Hebreërskrywer in hoofstuk 11, in sy groot besinning oor geloof, vir ons leer. “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie” (vers 1). En dan maak hy so vinnig ’n lysie van die geloofshelde van ouds, wat geleef het in die hoop, met die oog op die onsienlike, soos Abel en Henog en Noag, of soos Abraham, wat na ’n vreemde land gaan, sonder enige waarborge, net met God se belofte dat Hy vir hom ’n groot nageslag en ’n land sal gee, want “hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het …” Hierdie geloofshelde het nie alles gekry wat beloof is nie. Al wat Abraham bv van die nageslag en die beloofde land besit het toe hy dood is, was een seun, Isak, en ’n grot waarin hy begrawe kon word. Maar, sê die Hebreërskrywer, die geloofshelde van ouds, soos Abraham, het dit wat God beloof het “uit die verte gesien en daaroor gejuig …” (vers 13).

Geloof is om op God te fokus, nie op jouself nie. Dán gaan jou oë oop. Dán begin jy Hom oral om jou sien, in die wêreld, in die geskiedenis, en ook in jou eie lewe. Want God is nie weg nie. Hy belowe dan dat Hy ons nooit sal begewe en ons nooit sal verlaat nie (vgl Heb 13:5). Dat Hy by ons is, al die dae, tot die voleinding van die wêreld (Matt 28:20). Daarvoor het Jesus sy eie lewe gegee, was Hý van God verlate, sodat ons nooit meer deur God verlaat sal wees nie, soos die Nagmaalsformulier dit so treffend gestel het. Daarom kon Paulus in Rom 8:38-39 uitroep: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”

“Waar is God as ek Hom nodig het?” Die Woord sê vanoggend: Hy is by jou. Hy was nog altyd, en Hy sal ook steeds by jou wees. Maar sy spoor is nie altyd so sigbaar soos ons dit graag wil hê nie. Dit was in die Bybelse tye al so, en dis vandag steeds so. Dis eers as jy wegkyk van jouself en op God fokus, oor Hóm nadink, dat jy sy spore begin herken in die wêreld en in jou eie lewe; dat jy sy teenwoordigheid en liefde en sorg en beskerming begin raaksien.

“Ek wil nadink oor al u werk en oor al u dade peins,” sê Asaf in Ps 77:13. As jy só leef, sál jy God in jou lewe sien.
Amen.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: