Ek wonder of julle weet wat die heel eerste ding is wat van julle gesê is, daardie eerste keer toe julle in die kerk gekom het. Ek dink nie julle sal dit onthou nie, want julle was natuurlik toe nog baba’s. Toe is daar vir julle in die doopformulier gesê: Julle is sondaars, en daarom kan julle nie in die koninkryk van God kom nie, tensy julle weer gebore word. Dit beteken dat julle, en natuurlik enige ander mens, en ons almal hier in die kerk, nie God se kind kan wees soos ons is nie. Want ons is sondaars. Almal van ons. Die apostel Paulus skryf in Rom 3:23: Almal het gesondig en is ver van God af.

En daarom, as ons naby aan God wil kom, as ons God se kinders wil wees, en as ons eendag in die hemel wil kom, moet daar iets met ons gebeur. Anders bly ons ver van God af, en is ons verlore, en gaan ons eendag in die hel beland.

Die groot vraag is natuurlik: wat moet ons doen sodat ons God se kinders kan wees. Die Jode het gesê: Jy moet maar net goed genoeg glo, dan sal God jou sy kind maak. En dan wys hulle na Abraham. Die Bybel sê tog van hom dat hy in God geglo het, en daarom het God hom vrygespreek (vers 3; vgl Gen 15:6). En nou sê die Jode: As jy maar net so goed soos Abraham kan glo, dan is God tevrede. En baie mense dink vandag nog soos die Jode destyds gedink het. Daarom, as jy vir hulle vra of hulle eendag in die hemel sal kom, antwoord hulle dat hulle dit hoop, want hulle glo in God, en hulle hoop maar hulle geloof is sterk genoeg.

Verkeerd! sê die Bybel. ’n Mens word nie gered omdat jy goed genoeg glo nie. ’n Mens word gered omdat God jou sondes wegvat. Daarom moet ons nie eintlik vra: wat moet óns doen om gered te word nie. Ons moet weet wat Gód gedoen het. Ons word nie God se kinders omdat óns iets doen nie. Ons word God se kinders omdat Hý iets gedoen het. Ons teksvers sê: God spreek die goddelose vry. Die goddelose! Die sondaar, soos die doopformulier van julle en van my ook sê. Nie die een wat goed genoeg glo nie, maar die goddelose.

Natuurlik moet ons in God glo. Moet ons met ons hele hart in God glo, glo dat Hy ons liefhet en ons sy kinders gemaak het. Maar ons moet dit baie goed verstaan dat ons nie sy kinders is omdat ons so goed is en so goed glo nie. Ons is sy kinders net maar omdat Hy so goed is en ons so liefhet.

Dit is die tweede ding wat die Here vir ons in die doop gesê het: ons kan net in sy koninkryk kom as ons sonde afgewas word met die bloed van Jesus. Dit vertel die water van die doop ons vanoggend. Net soos water ’n mens skoon was, jou hande, jou gesig, jou klere, so was die bloed van die Here Jesus ons skoon van ons sonde en sondigheid.

God het dit eintlik baie maklik vir ons gemaak om sy kinders te kan wees. Ons hoef niks te doen nie! Hy het alles klaar vir ons gedoen! Die doop onderstreep dit opnuut vir ons.

Maar daar is tog ook ’n moeilike stukkie by: ons moenie net glo dat God alles vir ons gedoen het, klaar gedoen het op Golgota nie. Ons moet ook besef dat ons niks het om oor te spog voor God nie. Niks nie.

Ek kan nie my geloof voor God neersit en sê: Kyk daar, Here, hoe goed glo ek nie. Ek kan nie sê: Kyk hier, Here, ek kom gereeld kerk toe nie. Kyk, Here, hoe groot is my dankoffer elke maand, en kyk hoe stry ek teen die sonde nie. Al wat ek kan sê, is: Ek weet, Here. Ek is ’n sondaar. Ek kan nie self by U uitkom nie. Red U vir my.

Dít is geloof. Om nie op iets in jouself te vertrou nie, maar God toe te laat om jou te red. Daarom sing ons in Lied 239:

Leeg, net met my sondelas,
hou ek u verdienste vas.
Ek kom om vergewing vra;
U het ook mý skuld gedra!
U, geslaan tot heilsfontein,
was my, Heiland, maak my rein!

Amen.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: