Toe ek die afgelope week weer ’n keer na Paulus se pragtige loflied op die liefde in 1 Kor 13 gekyk het, was daar een ding wat nogal vir my uitgestaan het. Die mens wat liefde in sy hart het, so sê 1 Kor 13, dink nie te veel van homself nie. Mense wat liefhet, is nie só op hulleself ingestel dat hulle ander mense uit die oog verloor nie. Jy ken mos die woorde: die liefde is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie, soek nie sy eie belang nie …

Dis vir my ongelooflik hoe mense ewe selfsugtig reageer op maatreëls om die verspreiding van die virus te beperk. Hulle gaan aan asof dit hulle nie raak nie, asof hulle deur hulle optrede nie vir ander in gevaar stel nie. Die liefde soek nie sy eie belang nie!

Dis nie verniet dat Paulus dit daar skrywe nie, want ons kan tog so verskriklik bewus wees van ons eie probleme en swaarkry. Dis vir my verstommend hoe party mense ander se nood en leed kan afmaak as niks in vergelyking met wat húlle deurmaak nie, of hoe hulle nie hulle eie voorregte raaksien nie en met begerige oë na ander kyk. Ek het in die week ’n plasing op facebook gesien van ’n foto van ’n plakkerskamp, en dan skryf die persoon daarby: probeer jou indink wat ’n 21 dae inperking in só ’n situasie beteken.

Die Bybel wil ons oë daarvoor oopmaak dat ons swaarkry, en ander mense se swaarkry, inpas binne ’n veel groter geheel van swaarkry. Die hele skepping sug saam met ons, want die ganse skepping is saam met die mens deur die sondeval getref. Die skepping wag net so gespanne soos ons dat die Here weer moet kom, want dan sal die skepping ook uiteindelik vry wees van die verganklikheid en die vernietigende vloek van die sonde.

Die hele skepping sug in die pyne van verwagting – dink maar aan die droogtes en die oorstromings, die uitsterf van dier- en plantspesies, die besoedeling, die gat in die osoonlaag, die uitputting van die natuurlike hulpbronne, die peste en plae …

Die skepping sug, en daarmee saam die mensdom ook. Dink maar aan die bevolkingsontploffing, hongersnood en groot dele van die wêreld, oorloë en die vlugtelingvraagstuk, die misdaad en geweld en werkloosheid ens. En nou – die coronavirus. Dis asof die ganse skepping in ’n hoek gedryf is waaruit hy nie kan kom nie. Paulus sê die skepping is aan verydeling onderworpe. Hy is ontspoor, en kan nie weer in rat kom nie.

Ons weet al hierdie dinge uit die Bybel. Gen. 3 vertel dit al vir ons, waar God ná Adam en Eva se sonde aankondig dat die hele aarde vervloek is om ons ontwil. Maar die ongelowiges weet dit ook, want ’n mens kan dit nie miskyk nie. Daar is ’n groot skroef los met ons planeet en die mense wat op hom woon. En as die ongelowige hierdie dinge sien, raak hy moedeloos, en twyfel hy aan God.

Die gevaar is nou dat ons net soos die ongelowiges sal wees: moedeloos oor die toestand van die wêreld, en twyfel oor God se vermoë of wil om iets daaraan te doen. Dat ons met hangskouers deur die lewe sal gaan. Daarom herinner Paulus ons daaraan dat daar nóg ’n werklikheid is behalwe die stukkende een waarin ons leef – ’n werklikheid wat deur die lyding van Christus aan die kruis, en deur sy oorwinning oor die dood en verganklikheid, vir ons verwerf is. Want God het nie hierdie stukkende wêreld afgeskryf nie.

Daarom wag daar ’n erfenis vir ons in die hemel, en eendag, op die laaste dag, as God sy testament oopmaak, sal ons, sy aangenome kinders, daardie erfenis ontvang. Daardie dag sal ons vry wees van die stukkendheid van die skeppping; daardie dag sal die skepping weer op spoor kom soos God dit bedoel het. Die heerlikheid wat wag, oortref verreweg die swaarkry wat ons nou verduur.

Daarom mag ek en jy wat die Here ken en liefhet, nie met hangskouers leef nie, selfs in hierdie moeilike tye. Ons het immers hoop in ons hart. Ons wéét dit sal nie altyd so bly nie. Ons wéét die duiwel sal nie vir altyd sy greep op die wêreld kan volhou nie. Want die Here Jesus het vir ons kom wys dat God nie hierdie wêreld afgeskryf het nie.

Dít is die evangelie.

Amen.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: