Ek wil hê julle moet almal julle oë toemaak en julle ’n wêreld voorstel waarin God nié verskyn het nie. Hoe sou só ’n wêreld gelyk het? Hoe sou jou eie lewe gelyk het?

Paulus is redelik duidelik in sy gemoed oor hoe hý sou wees sonder God se teenwoordigheid in sy lewe (vs 3): onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad, verslaaf aan allerlei begeertes en singenot, kwaadwillig, jaloers, haatlik en haatdraend. Ek dink as ons eerlik met onsself wil wees, is dit van ons ook waar. Daarom pas dit nie by ’n gelowige om na ’n ongeredde mens te kyk; na iemand wat ver van God af leef, en dan die kop verontwaardig te skud nie. Want dit is die realiteit van die mens sonder God. Sonder God se ingrype in ons lewe het ons almal so gelyk: haatlik, kwaadwillig, jaloers, bakleierig, plesierjagters.

Maar God het ander planne met ons gehad. MAAR, sê ons teksvers: “Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn.”

Kersfees is God se “maar” op ’n wêreld wat die pad byster geraak het. Ek sê byster geraak het, want God het ons nie so gemaak nie. God het ons na sy beeld gemaak, om sy verteenwoordigers op aarde te wees, om iets van wie Hy is, sigbaar te maak in hierdie wêreld.

In hierdie verse teken Paulus ons ’n pragtige beeld van hoe God is:
Titus 3:4-7
Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn. Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee. God het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser. So is ons dan deur sy genade vrygespreek en het ons erfgename geword van die ewige lewe wat ons verwag.

Sien, dis hoe God is: goedheid, liefde vir die mens, ontferming, genade – dis die karaktertrekke van God wat gemaak het dat Kersfees aangebreek het 2000 jaar gelede. Dis oor sy goedheid en liefde en ontferming en genade dat Hy besluit het om in te gryp in ons wêreld, dat Hy “maar” gesê het toe die wêreld so verskriklik die kluts kwytgeraak het.

Miskien moet ons dit maar weer ’n keer goed hoor vanoggend: ons is nie hier omdat ons goed is nie. As dit van ons afgehang het, so herinner Paulus ons, sou ons nie hier gewees het nie, want uit onsself sou ons ook, soos talle ander wat van Kersfees niks verstaan nie, op die verkeerde pad gewees het. Dis net God se genade wat gemaak het dat ons vanoggend hier is. Dis sy onverdiende guns, soos vers 5 uitdruklik sê: “Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming.”

Wat gebeur as die goedheid van God ons Verlosser verskyn? Kom ons kyk weer na ons teksgedeelte:
Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn. Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee. God het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser. So is ons dan deur sy genade vrygespreek en het ons erfgename geword van die ewige lewe wat ons verwag.

Verlos, wedergeboorte, nuwe lewe, die gawe van die Heilige Gees, vrygespreek, erfgename van die ewige lewe …
Die grootste geskenk wat ’n mens met Kersfees ontvang, is nie daardie soort wat in blinkpapier onder die Kersboom lê nie. Dis ’n geskenk uit die hart van God: die verlossing en nuwe lewe wat Hy vir ons in Christus gee; die toerusting deur sy Heilige Gees om vir Hom te lewe; en die hoop op ’n ewige lewe in die hemel.

Kersfees is God se “maar” op ’n wêreld wat die pad byster geraak het. Staan sy “maar” ook oor jóú lewe geskryf? Want dán het jy alle rede om fees te vier!

Amen.

Skakel die kantoor
%d bloggers like this: