Ek is seker die meeste van julle het ook al sulke tye beleef: jy bid en bid, maar dis nie asof God jou hoor nie, of antwoord nie. Daar is net ’n dawerende stilte uit die hemel. En dit juis in ’n tyd dat jy God nodig het, want dit gaan sleg, jy is in die noute, en jy roep na God. Maar Hy is weg. Vir al wat jy weet, het Hy jou verlaat.

Dit was darem baie makliker in Bybelse tye, voel jy miskien om vanoggend te sê. Kyk byvoorbeeld na die Josef-verhaal. Josef is ’n slaaf in Egipte, eers in Potifar se huis, en later in die tronk, maar weer en weer lees ons dat die Here by hom was, en dat Hy Josef sy troue liefde laat ondervind het (39:21, vgl vs 2 en 23). ’n Mens sou byna kon sê: Maar as dit so gaan, raak dit selfs in die tronk draaglik! Dis darem maar wonderlik hoe die mense van die ou tyd bewus was van die Here se teenwoordigheid.

Ek dink nie Josef sou met ons saamgestem het oor die belewing van God se teenwoordigheid nie. Ek hoor niks daarvan in sy woorde aan die skinker nie. Hoor ’n bietjie hoe beleef hý die slawerny en tronklewe (14): Maar wanneer dit goed gaan met jou, moet jy aan my dink en moet jy my ’n guns bewys. Jy moet my saak vir hom (die farao) stel en sorg dat uit hierdie plek uitkom. Ek is uit die land van die Hebreërs gesteel en ook hier het ek niks gedoen waaroor hulle my in hierdie gat kon gooi nie. Dis bitter woorde hierdie. Ja, ook daar in die tronk, waar die Here vir Josef sy troue liefde laat ondervind het, was dit vir hom bitter.

Miskien is dit goed dat ons dit vanoggend weer ’n keer duidelik hoor: Ons ervaar God se troue liefde nie altyd as troue liefde nie. Dit was ook nie vir die mense van die ou tyd, soos Josef, makliker om te glo as wat dit vir ons is nie. Kan ek julle herinner aan Dawid se gekerm in Ps 22: My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep? My God, ek roep bedags en U antwoord nie, ook snags, maar ek kry geen rus nie … Moet tog nie so ver van my af weg bly nie, want die nood is naby en daar is niemand wat help nie … (22:2-3, 12). Of die woorde van die profeet Habakuk in 3:2: Here, ek het gehoor wat van U vertel is … Doen dit tog ook in ons tyd, laat u dade ook in ons tyd ervaar word …

God se pad met die mense wat Hy liefhet was nog nooit sonder probleme vir hulle nie, en dikwels het hulle nie sy teenwoordigheid beleef nie.

So, ten spyte van die troue liefde wat die Here vir Josef laat ondervind het, lyk dit nie of hy alte bewus was van die Here se teenwoordigheid nie. Ek glo hy het in dié tyd dikwels, herhaaldelik, tot God geroep – daar in die put, op pad na Egipte, in Potifar se huis, toe Potifar se vrou hom in ’n hoek wou keer, en ook nou hier in die tronk. En die antwoord wat hy gekry het, was sekerlik nie bemoedigend nie. Want na al die jare is hy nog steeds nie terug by sy pa in Kanaän nie, en boonop is hy nou nie meer net ’n slaaf nie, maar ’n bandiet! Hy het nou wel opgang gemaak, eers in Potifar se huis, en later in die tronk, maar selfs as bandiet-voorman was hy steeds ’n bandiet. Nie juis ’n posisie wat getuig van die Here se guns nie!

En die ergste van alles is die hopeloosheid van sy situasie. In hierdie hele hoofstuk van sy lewe gebeur daar eintlik niks met hom nie; om die waarheid te sê, dit lyk asof sy lewe in die tronk gaan eindig. Toe die skinker en bakker gedroom het, was hulle al lank in die tronk (vs 4), en Josef was al ’n ou tronkvoël toe hulle daar beland het (vs 1). Dit sou, nadat die skinker vrygelaat is, nóg 2 jaar duur voordat hy uit die tronk uitkom. Twee jaar is ’n lang tyd om te bly hoop en moed te hou.

Die enigste gevolgtrekking wat Josef kon maak, is dat hy in die tronk vergeet is. Dit lyk nogal of die verteller moeite doen ons te help om dit raak te sien. Daarom sluit hy die hoofstuk af met hierdie veelseggende woorde: Maar die hoof van die skinkers het nie aan Josef gedink nie, hy het van Josef vergeet.

Waar is die Here as ’n mens Hom nodig het? As jy na Hom roep en kerm, maar jy kry geen antwoord nie? As dit vir jou voel Hy speel wegkruipertjie met jou?

Ek dink wat die Bybelskrywer vir ons in hierdie hoofstuk wil help sien, is dat die Here daar is, al beleef jy dit nie so nie. Dat die Here jou vashou in jou donkerste uur, al voel jy stokalleen. Want God het nié van Josef vergeet nie. Nie net herinner die Bybelverteller ons oor en oor daaraan nie. Ons sien dit ook in die dinge wat met hom gebeur, en die mense wat oor sy pad kom. Want uiteindelik was die skinker Josef se pad tot in die paleis.

Dit sou natuurlik ’n ander storie gewees het as Josef toegelaat het dat sy gevoel van Godverlatenheid sy lewe oorheers, as hy op ’n hopie gaan sit het en homself bejammer het, of besluit het om God te los. Maar hy doen dit nie. In sy ellende leef hy steeds sy geloof uit, al verstaan hy nie hoekom hy daar is, of waar God is nie. Hy stel belang in die mense wat saam met hom in die tronk is (vs 6), en hy getuig van sy verhouding met God (vs 8).

Ons beleef nie altyd God se teenwoordigheid as ’n werklikheid in ons lewe nie. Ons sien God dikwels nie raak as ons in die nood is nie. Die Woord sê vanoggend: Moenie dan ophou glo nie. Moenie dan jou rug op God draai nie. Bly bid, bly praat, bly worstel – ek wil amper sê, bly baklei – met God. Moenie wegdraai nie. Draai ná Hom toe in jou ellende, selfs al is jy kwaad vir Hom. Hou aan Hom vas, soos Hy aan jou vashou, en leef jou geloof, al sien jy niks.

Josef moes jare lank wag dat die lig deurbreek. Eers dertien jaar ná hy Egipte toe is, het dinge vir hom begin draai. Maar dit was nie dertien leë jare nie, al het dit dalk so gevoel. God was by Josef, en besig met hom. Daarom kon hy daardeur.

God is met jou óók besig. Dít is die evangelie.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: